
Die pragtige Teatro Testoni Ragazzi – La Baracca
Lees in Engels, hier.
Teater La Baracca in Bologna, Italië is al 41 jaar lank in die veld van teater vir jongmense. Hierdie jaar het hull vir die 14de keer die fees, Festival Visioni aangebied. Nie net fokus hierdie fees op teater vir jong kinders nie, maar ook op programme vir samewerking tussen internasionale teatermaatskappye en individuele kunstenaars. Een so ’n program, Artists Meet Early Years, gun aan kunstenaars onder 35 jaar oud die geleentheid om as deel van die fees, hulle werk in die omliggende kleuterskole van Bologna aan te bied. Ek was die wonderlike eer te beurt geval om gekies te word vir die program saam met 8 ander kunstenaars van Duitsland, Griekeland, Israel, Italië, Romanië, en Engeland. Die doel van die program is vir jong kunstenaars om die kinders in hulle omgewings te observeer om sodoende ervaring op te doen wat hulle in hulle eie artistieke navorsing oor jong kinders kan baat.

Tydens my optrede by Scuola dell’infanzia Disney
Vir twee agtereenvolgende dae, het elke kunstenaar ’n uitsetsel van sy/haar werk in ’n kleuterskool aangebied. Die kunstenaars se werk was uiteenlopend; teater, storievertelling, dans, musiek en kuns. Dit is interessant om te weet dat Italië nie kinders met spesiale behoeftes skei of in aparte skole plaas nie. ’n Kind met spesiale behoeftes kan in enige skool saam met ’n opasser geplaas word. Dus het jy ’n gehoorlid met spesiale behoeftes waarvan jy nie noodwendig bewus was/is nie, of jou vertoning se styl is nie noodwendig ontwikkel vir hulle behoeftes nie. Deur dit het ek opnuut geleer om elke gehoorlid as individu te observeer en te lei deur die artistieke proses. As kunstenaar moet jy aanpas by die kind en nie andersom nie. ’n Frase wat ek daar geleer het, som dit so mooi op: “See the invisible children.”
My eerste dag en opvoering in die kleuterskool, was uitdagend. Aangesien my werk baie interaktief is, het twee faktore my benoud gemaak: ek was alleen in die vertoning en die kinders verstaan nie volkome Engels nie. Van die ander kunstenaars in ons program het ’n soortgelyke ervaring gehad en dit het ons met waardevolle vrae/observasies gelaat:
- Hoe om ’n opvoering te fasiliteer en grense te stel sonder die hulpmiddel van taal.
- Hoe om dieselfde artistieke ervaring soos in die teater, ook in die kleuterskool omgewing te skep.
- Hoe om dieselfde dissipline van ’n teatergehoor ook in die kleuterskoolgehoor te kweek en watter elemente dra by tot ’n atmosfeer van konsentrasie en ontvanklikheid vir ’n artistieke ervaring.
Hier het ek die waarde van kommunikasie tussen ons as kunstenaars en die onderwyser in die klaskamer geleer. Hierdie kommunikasie sorg vir beter fasilitering en voorbereiding, sodat die kinders die produk beter kan ontvang. Na die eerste vertoning kon die onderwysers my raad gee en my selfs ’n paar Italiaanse frases aanleer. Op my beurt kon ek elemente uitlig waar die onderwysers my kan help in die proses. Dit het soos ’n bom gewerk en die volgende dag se vier vertonings was ’n reuse sukes. Onderwysers kan ons beste critici wees, hulle leef immers daagliks saam met ons gehoorlede.

Ons het middagete in die kleuterskole geniet!
Bogenoemde is dan ook wat vir my uitgestaan het van La Baracca en die fees; die verhouding tussen die teaterinstansie en die onderwysers. Van die werkswinkels wat ek tydens die fees kon bywoon, was 95% van die deelnemers onderwysers. Lo Sguardo Altrove is ’n groep onderwysers en pedagoë wat teater vir jong kinders bestudeer en gee ook sodoende terugvoering en samewerking aan die kunstenaars wat werk skep vir jong ouderdomme. Dit was ’n leersame ervaring om ons vrae en ervaringe tydens die kleuterskool besoeke met Lo Sguardo Altrove te deel.
Buiten die teater se groeiende verhouding met die onderwysstelsel, het die gehoor ontwikkeling vir my uitgestaan. La Baracca dien ’n lojale gehoor wat reeds vertroue in hulle werk vir jong kinders het en die waarde daarvan besef. Die gehoor is stampvol van kinders én volwassenes en daar heers ’n opgewondenheid en afwagting om ’n artistieke ervaring saam te ervaar. Die volwassenes (mans en vrouens) onttrek nie deur te dink, “Ag dit is net ’n kinderproduksie vir kinders”, nie. Inteendeel, met tye is die volwassenes meer geboei as die kinders! In Suid-Afrika het ons nog ons uitdagings wat gehoor getalle ens. aanbetref, maar hier het ek gesien dit is moontlik om ’n groeiende verhouding met jou gehoor te bou!

Van die wonderlike La Baracca personeel
Die mense en kultuur van La Baracca is iets wat ek altyd in my hart sal saamdra. Hulle liefde vir teater en mense bly die eerste prioriteit. Hardwerkendheid heers en indien ’n personeellid nie self in ’n vertoning speel nie, sal hulle help met take in en om die teater, of kos bedien vir die feesgaste. Bo dit alles, sal hulle jou menswees ryker laat as jy by dié teater se deure uitstap, of in my geval, uitgly (as gevolg van die baie sneeu)! Baie dankie La Baracca en jou wonderlike mense vir die ongelooflike voorreg en leerskool. Ek hoop ons paaie kruis gou weer, volgende keer met nog Suid-Afrikaners langs my.
ASSITEJ stel ’n mens bloot aan geleenthede soos dié en bring soms die geleenthede tot op jou voorstoep, soos tydens die ASSITEJ World Congress wat verlede jaar in Kaapstad plaasgevind het. Deur al hierdie geleenthede vorm ’n mens deel van ’n nasionale en internasionale netwerk. ’n Netwerk vol ongelooflike mentors, ondersteuners en vriende wat een doel voor oë het: om deur die kunste ’n verskil in die lewe van kinders te maak.
Baie dankie ASSITEJ Suid-Afrika, Alison Green en Yvette Hardie, my woorde is min en my dankbaarheid ewig. Was dit nie vir ASSITEJ wat my blootgestel het aan dié veld en geleenthede nie, sou ek nooit my passie vir teater vir jong kinders ontdek en uitgeleef het nie.
Schoeme Grobler

Artist Meet Early Years voorlegging by die fees